Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 4:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. “Prostitusie, wyn en drank het my volk se denkvermoë verdof.

12. Hulle vra ’n stuk hout om raad! Hulle dink ’n stok kan hulle adviseer! ’n Gees van losbandigheid, ’n hunkering na die afgode het hulle dwaas gemaak. Hulle het soos prostitute opgetree deur ander gode te dien.

13. Hulle bring offers aan die afgode op die bergtoppe. Hulle bring wierookoffers op die heuwels en offer in die koel skadu van eike, populiere en ander groen bome.“Dis waarom julle dogters prostitute geword het, en julle skoondogters egbreuk pleeg.

14. Sal Ek nie julle dogters straf omdat hulle prostitute is en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie? Sekerlik sal Ek dit doen, want julle mans doen dieselfde deur met tempelprostitute te sondig. O dwase mense! So bewerk mense sonder verstand hulle eie ondergang.

15. “As Israel soos ’n prostituut is, mag Juda nie ook skuldig word nie! O Juda, moenie die heiligdomme by Gilgal en Bet-Awen besoek om daar te aanbid nie. Moenie daar in die Naam van die Here ’n eed neem nie.

16. Israel is so hardnekkig soos ’n koppige koei. Moet die Here hulle dan onbeskermd laat wei soos ’n lam in die veld?

17. Efraim se hart lê by die afgode. Laat hom met rus!

18. Wanneer die manne van Israel klaar gedrink het, gaan soek hulle prostitute. Hulle passie vir skande is groter as dié vir eer.

19. Daarom sal ’n rukwind hulle wegwaai. Hulle sal in die skande kom oor hulle offers.”

Lees volledige hoofstuk Hosea 4