Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 4:11-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het.

12. Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”

13. Kain antwoord die Here: “My straf is te groot om te dra!

14. U het my verban van my grond af en uit u teenwoordigheid. U het my ’n swerwende vlugteling op aarde gemaak. Elkeen wat my teëkom, sal my wil doodmaak!”

15. Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.

16. Kain het van die Here God se teenwoordigheid af weggegaan en in die land Nod, oos van Eden, gaan woon.

17. Kain het by sy vrou geslaap, sy het swanger geword en geboorte gegee aan Henog. Kain het ’n stad gebou en dit vernoem na sy seun Henog.

18. Henog was die pa van Irad. Irad was die pa van Megujael. Megujael was die pa van Metusael. Metusael was die pa van Lameg.

19. Lameg het met twee vroue, Ada en Silla, getrou.

20. Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorvader van die veeboere wat in tente gewoon het.

21. Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die voorvader van die musikante wat op die harp en die fluit gespeel het.

22. Tubal-Kain was die seun van Silla. Hy was die voorvader van die metaalwerkers wat instrumente uit koper en yster gemaak het. Sy suster se naam was Naäma.

23. Op ’n dag sê Lameg vir sy twee vroue Ada en Silla:“Vroue van Lameg, hoor wat ek vir julle sê!Luister na wat ek sê.’n Man wat my wond, maak ek dood,ja, selfs ’n jong man wat my aanval.

24. Kain se doodsal sewe maal gewreek word,maar Lameg s’n 77 maal!”

25. Adam het weer by sy vrou geslaap en sy het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Set genoem, want sy het gesê: “God het vir my ’n ander seun gegee in die plek van Abel wat deur Kain doodgemaak is.”

26. Ook Set het ’n seun gehad wat hy Enos genoem het. In hierdie tyd het die mense die Here begin aanbid.

Lees volledige hoofstuk Genesis 4