Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jakob het hom weer in die land Kanaän gaan vestig waar sy pa gewoon het.

2. Nou volg die familiegeskiedenis van Jakob. Toe Josef sewentien jaar oud was, het hy dikwels sy pa se troppe vee opgepas saam met sy halfbroers, die seuns van sy pa se vroue Bilha en Silpa. Josef het by sy pa nuus aangedra oor die verkeerde dinge wat sy broers gedoen het.

3. Jakob het Josef liewer gehad as al sy ander kinders omdat hy gebore is toe Jakob reeds bejaard was. Hy gee toe vir Josef ’n besondere kleed.

4. Maar sy broers het Josef gehaat omdat hulle pa vir Josef voorgetrek het. Hulle het geen vriendelike woord vir hom gehad nie.

5. Een nag het Josef ’n droom gehad. Hy het dit vir sy broers vertel, waarna hulle hom nog meer gehaat het.

6. “Kom luister na hierdie droom van my,” het hy gesê.

7. “Ons was besig op die land om gerwe graan vas te bind. My gerf het regop gestaan, maar julle gerwe het rondom kom staan en laag voor myne gebuig!”

8. “Gaan jy dan ons koning word, gaan jy nogal oor ons regeer?” spot sy broers. Ná die vertelling oor die droom het hulle hom nog meer gehaat.

9. Daarna het Josef nog ’n droom gehad en hy vertel dit weer aan sy broers. “Luister na hierdie droom,” sê hy. “Die son, maan en elf sterre het voor my kom neerbuig!”

Lees volledige hoofstuk Genesis 37