Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 35:15-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Jakob het die plek Bet-El, huis van God, genoem, want God het daar met hom gepraat.

16. Hulle het Bet-El verlaat op pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Toe hulle nog ’n ent van hulle bestemming was, was dit Ragel se tyd om geboorte te gee. Dit was ’n baie moeilike bevalling.

17. Toe sy so swaarkry met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie. Jy het weer ’n seun!”

18. Maar Ragel was besig om te sterf. Met haar laaste asem noem sy hom Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.

19. Ragel het gesterf en hulle het haar op pad na Efrata, dit is Betlehem, begrawe.

20. Jakob het ’n klip as gedenkteken op die graf gesit. Dit staan vandag nog daar.

21. Daarna het Jakob sy reis voortgesit en kamp opgeslaan by Migdal-Eder.

22. Terwyl hulle in daardie landstreek was, het Ruben by Bilha, sy pa se slavinvrou, geslaap. Jakob het hiervan te hore gekom.Hier volg die name van Jakob se twaalf seuns:

23. Die seuns van Lea was: Ruben, Jakob se oudste seun, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.

24. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.

25. Die seuns van Bilha, Ragel se slavin, was Dan en Naftali.

26. Die seuns van Silpa, Lea se slavin, was Gad en Aser.Dit is die seuns wat vir Jakob in Paddan-Aram gebore is.

27. Jakob is toe na sy pa, Isak, in Mamre. Dit is naby Kirjat-Arba, nou genoem Hebron, waar Abraham destyds gewoon het.

28. Isak het 180 jaar oud geword.

29. Hy is ná ’n vol lewe op ’n rype ouderdom oorlede. Sy twee seuns, Esau en Jakob, het hom begrawe.

Lees volledige hoofstuk Genesis 35