Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 34:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Omdat hy hulle suster verkrag het, het Dina se broers egter bedrieglik gereageer op Sigem en Gamor se versoek.

14. Daarom sê hulle: “Ons kan dit glad nie toelaat nie, want julle is nie besny nie. Dit sal ’n skande wees as sy met ’n man trou wat nie besny is nie.

15. Maar daar is ’n oplossing vir die probleem. As elke man onder julle soos ons besny word,

16. dan kan ons met julle ondertrou en saam hier in vrede lewe. Dan kan ons een nasie word.

17. Indien nie, vat ons haar en gaan weg hiervandaan.”

18. Hulle voorstel was aanvaarbaar vir Gamor en Sigem.

19. Sigem het nie op hom laat wag nie, want hy wou Dina bitter graag hê. Sigem was hooggeag in sy familie.

20. Hy en sy pa het saam na die vergaderplek in die poort gegaan en die voorstel aan die leiers voorgelê.

21. “Daardie mense is goedgesind teenoor ons,” het hulle gesê. “Kom ons laat hulle toe om hier by ons te woon en met ons handel te dryf, want die land is groot genoeg om hulle ook te dra. Dan kan ons met hulle ondertrou.

22. Hulle sal dit egter net op een voorwaarde oorweeg om hier te bly. Dit is dat elke manlike persoon onder ons besny word.

23. As ons dit doen, sal al hulle vee, trekdiere en besittings ons s’n word. Hulle sal dan saam met ons hier kan woon.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 34