Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:24-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Met sy aankoms daar het die Here die aand aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën. Ek sal jou nageslag baie maak en hulle sal ’n groot nasie word. Ek sal dit doen omdat Ek dit vir Abraham, my dienskneg, belowe het.”

25. Toe bou Isak daar ’n altaar en aanbid die Here. Hy het daar kamp opgeslaan en sy slawe het daar ’n put gegrawe.

26. Op ’n dag kry Isak besoekers uit Gerar. Dit was koning Abimelek saam met sy raadgewer Agussat en Pikol, die bevelvoerder van sy leër.

27. “Hoekom het julle na my toe gekom?” vra Isak hulle. “Julle haat my en het my van julle af weggestuur.”

28. Hulle antwoord hom: “Dis vir ons duidelik dat die Here met jou is. Daarom het ons gekom om ’n verdrag met jou te sluit.

29. Lê ’n eed af dat jy ons nie kwaad sal aandoen nie, net soos ons jou nie skade berokken het nie. Ons het jou net goed behandel en jou in vrede weggestuur. En kyk hoe seën die Here jou!”

30. Isak het ’n groot fees voorberei en hulle het geëet en gedrink.

31. Vroeg die volgende oggend het hulle onder eed ’n verdrag gesluit. Isak het hulle toe in vrede laat gaan.

32. Daardie selfde dag kom rapporteer Isak se slawe oor ’n put wat hulle gegrawe het. “Ons het water gekry!” het hulle gesê.

33. Isak noem toe die put Seba. Daarom is die naam van die stad nou nog Berseba, “put van die eed”.

34. Toe hy 40 jaar oud was, het Esau met Jehudit, die dogter van Beëri, ’n Hetiet, getrou. Hy het ook met Basemat, die dogter van Elon, ook ’n Hetiet, getrou. Esau se twee vroue het egter vir Isak en Rebekka baie verdriet besorg.

Lees volledige hoofstuk Genesis 26