Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:2-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Op ’n dag sê hy vir die oudste slaaf wat oor sy huishouding aangestel is: “Kom sit jou hand hier,

3. en lê ’n eed af by die Here, die God van die hemel en die aarde, dat jy nie sal toelaat dat my seun met een van hierdie plaaslike Kanaänitiese meisies trou nie.

4. Gaan liewer na my geboorteland en my bloedverwante en soek daar ’n vrou vir my seun Isak.”

5. Die slaaf antwoord hom: “Sê nou net ek kry nie ’n jong vrou wat bereid is om saam met my te kom nie? Mag ek Isak dan soontoe neem om weer by u bloedverwante te woon?”

6. “Nee!” waarsku Abraham. “Pas op! Jy moet my seun nooit daarheen terugneem nie.

7. Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se huis en my geboorteland geroep het, het met ’n eed belowe om hierdie land aan my nageslag te gee. Hy sal sy engel voor jou uitstuur en sorg dat jy daar ’n meisie kry wat met my seun sal trou.

8. Maar as sy onwillig is om saam met jou terug te kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie. Maar jy mag my seun nie daarheen terugneem nie.”

9. Die slaaf het toe ’n eed afgelê dat hy Abraham se voorskrifte sou uitvoer.

10. Hy het tien kamele gelaai met allerlei kosbare geskenke van Abraham. Daarna het hy vertrek na Mesopotamië, na die dorp waar Abraham se broer Nahor gewoon het.

11. Daar aangekom, laat hy die kamele kniel by ’n fontein net buite die dorp. Dit was laatnamiddag en tyd dat die vroue uitkom om water te kom haal.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24