Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 23:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Abraham het weer voor die leiers van die land gebuig.

13. Terwyl almal luister, sê hy vir Efron: “Nee, luister vir mý. Ek sal dit van jou koop. Laat my die volle prys betaal sodat ek my vrou daar kan begrawe.”

14. Efron antwoord vir Abraham:

15. “Meneer, luister na my. Die land is 400 sikkels silwer werd, maar wat is dit nou tussen ons? Gaan voort en begrawe jou vrou.”

16. Abraham betaal toe die prys wat Efron gevra het, soos voor almal ooreengekom. Dit was 400 sikkels silwer.

17. So het hy wettiglik die stuk grond by Makpela naby Mamre van Efron gekoop. Dit het ingesluit die grond, die grot daarop, en al die bome tot by die grens van die grond.

18. Dit het Abraham se vaste eiendom geword volgens die ooreenkoms wat voor almal in die poort van die stad gemaak is.

19. Daarop het Abraham Sara daar begrawe, in die grot van Makpela, naby Mamre. Dit is Hebron in Kanaän.

20. Abraham het op dié manier wettiglik die grond en die grot as ’n begraafplaas van die Hetiete gekoop.

Lees volledige hoofstuk Genesis 23