Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:25-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Hy het hierdie stede en hulle omgewing totaal verwoes met al hulle inwoners en die plante en die diere.

26. Agter hom het Lot se vrou omgekyk en toe in ’n soutpilaar verander.

27. Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die Here gestaan het.

28. Hy het oor die vlakte uitgekyk in die rigting van Sodom en Gomorra. Daar sien hy net rookkolomme optrek oor die hele gebied, soos rook uit ’n steenoond.

29. Maar God het Abraham se versoek onthou en Lot gered uit die verwoesting van die stede in die vlakte waar hy gewoon het.

30. Na ’n tyd het Lot weggegaan uit Soar omdat hy bang was vir die inwoners. Hy gaan woon toe saam met sy dogters in ’n grot in die berge.

31. Op ’n dag sê die ouer dogter vir haar suster: “Ons pa word nou oud. Daar is nêrens in hierdie omgewing ’n man met wie ons kan trou nie.

32. Kom ons maak hom dronk met wyn en dan slaap ons by hom. Op so ’n manier kan ons deur ons pa ’n nageslag laat voortleef.”

33. Hulle het toe so gemaak. Daardie aand het hulle hom met wyn dronk gemaak en die ouer dogter het by haar pa gaan slaap. Hy was onbewus daarvan dat sy kom lê het of dat sy opgestaan het.

34. Die volgende oggend sê sy toe vir haar suster: “Ek het laas nag by ons pa geslaap. Kom ons maak hom vanaand weer dronk met wyn en dan gaan jy in om by hom te slaap. Op so ’n manier kan ons deur ons pa ’n nageslag laat voortleef.”

35. Hulle het hom toe daardie aand weer dronk gemaak, en die jonger dogter het ingegaan en by hom gaan slaap. Soos die vorige keer, was hy onbewus daarvan dat sy kom lê het of dat sy opgestaan het.

36. Op hierdie manier het albei dogters van Lot swanger geword by hulle pa.

37. Toe die ouer dogter ’n seun in die wêreld bring, het sy hom Moab genoem. Hy het die stamvader geword van die volk wat nou as die Moabiete bekend staan.

38. Toe die jonger dogter geboorte gee aan ’n seun, het sy hom Ben-Ammi genoem. Hy het die stamvader geword van die volk wat nou bekend is as die Ammoniete.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19