Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daardie aand het die twee engele by Sodom aangekom. Lot het juis in die poort van Sodom gesit. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan om hulle te ontmoet. Hy het hulle verwelkom en laag voor hulle gebuig.

2. “Menere,” sê hy, “kom gerus saam na my huis toe. Daar kan u u voete was en my gaste vir die nag wees. Môre-oggend kan u weer vroeg op pad wees.”“Nee, dankie,” antwoord hulle, “ons sal die nag sommer hier op die stadsplein deurbring.”

3. Maar Lot het daarop aangedring sodat hulle uiteindelik ingewillig het om saam te gaan. Hy het ’n groot feesmaal voorgesit met ongesuurde brood en hulle het dit geëet. Ná die ete,

4. toe hulle begin klaarmaak om te gaan slaap, het al die mans van Sodom, oud en jonk, van oor die hele stad saamgekom en die huis omsingel.

5. Hulle skree vir Lot: “Waar is die mans wat die nag by jou deurbring? Bring hulle uit sodat ons seksueel met hulle kan verkeer!”

6. Lot het uitgegaan, die deur agter hom toegemaak en met hulle gepraat.

7. “Asseblief, my broers,” het hy gesoebat, “moenie so ’n bose ding doen nie.

8. Kyk, ek het twee dogters, albei nog maagde. Ek sal hulle buitentoe bring. Doen met hulle wat julle wil, maar los hierdie mans uit, want hulle is onder my beskerming.”

9. “Staan opsy!” het hulle geskree. “Jy het as vreemdeling tussen ons kom woon en nou wil jy vir ons kom sê wat óns moet doen! Ons sal jou nog slegter behandel as vir hulle.” Hulle het Lot begin vasdruk en nadergekom om die deur af te breek.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19