Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 18:2-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. sien hy skielik drie mans daar naby staan. Hy het opgestaan, vinnig na hulle toe gestap en hulle verwelkom deur diep te buig.

3. “Menere,” het hy gesê, “doen my ’n guns en vertoef ’n bietjie hier.

4. Rus eers in die skadu van hierdie boom terwyl ek water laat haal om u voete te was.

5. Terwyl u my dan die eer aandoen om by my te vertoef sal ek ’n bietjie kos laat voorberei sodat u versterk kan word. Vertoef tog ’n rukkie voordat u verder reis.”“Alte seker,” sê hulle. “Doen soos jy gesê het.”

6. Abraham is vinnig terug tent toe en sê vir Sara: “Maak gou! Kry drie mate fynmeel, knie dit en bak roosterkoeke.”

7. Daarna loop hy vinnig na die beestrop toe en kies ’n vet jaaroudkalf en beveel ’n dienskneg om dit gou te slag en voor te berei.

8. Toe die kos gereed was, het hy botter en melk saam met die gaar vleis aan hulle voorgesit. Terwyl hulle eet, het Abraham by hulle onder die boom bly staan om hulle te bedien.

9. “Waar is Sara, jou vrou?” vra hulle hom.“In die tent,” antwoord Abraham.

10. Toe sê een van hulle: “Omtrent hierdie tyd volgende jaar sal ek weer terugkom. Jou vrou Sara sal dan al ’n seun hê.”Sara het by die ingang van die tent agter hom gestaan en afluister.

11. Omdat sowel Abraham as Sara bejaard was en Sara reeds verby die ouderdom was dat sy kinders kon kry,

12. het sy by haarself gelag. “Hoe kan ’n ou vrou soos ek nog sulke plesier ervaar?” het sy gedink. “En dit nogal met my man wat oud is!”

13. Daarop sê die Here vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag? Hoekom het sy gesê: ‘Kan ’n bejaarde vrou soos ek regtig ’n kind in die wêreld bring?’

14. Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Ek sal oor ’n jaar terugkom en dan sal Sara ’n seun hê.”

15. “Nee, ek het nie gelag nie!” antwoord sy, want sy was bang. Maar Hy sê: “Dit is nie waar nie. Jy hét gelag.”

16. Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.

Lees volledige hoofstuk Genesis 18