Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 18:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Omdat sowel Abraham as Sara bejaard was en Sara reeds verby die ouderdom was dat sy kinders kon kry,

12. het sy by haarself gelag. “Hoe kan ’n ou vrou soos ek nog sulke plesier ervaar?” het sy gedink. “En dit nogal met my man wat oud is!”

13. Daarop sê die Here vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag? Hoekom het sy gesê: ‘Kan ’n bejaarde vrou soos ek regtig ’n kind in die wêreld bring?’

14. Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Ek sal oor ’n jaar terugkom en dan sal Sara ’n seun hê.”

15. “Nee, ek het nie gelag nie!” antwoord sy, want sy was bang. Maar Hy sê: “Dit is nie waar nie. Jy hét gelag.”

16. Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.

17. “Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die Here.

18. “Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word.

19. Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om aan die Here gehoorsaam te wees deur te doen wat goed en reg is sodat Ek vir hom alles kan doen wat Ek hom belowe het.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 18