Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 11:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daar was ’n tyd toe die hele wêreld net een taal gepraat het en dieselfde woorde gebruik het.

2. Soos wat die mense se woongebied ooswaarts uitgebrei het, het hulle op ’n vlakte in die land Sinar afgekom en daar gaan woon.

3. Na ’n tyd het hulle vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene wat goed gebak is.” Hulle gebruik toe stene in plaas van klippe en asfalt in plaas van klei.

4. “Kom,” sê hulle, “laat ons vir onsself roem verwerf en ’n stad bou met ’n toring wat aan die hemel raak. Dit sal ons bymekaarhou en keer dat ons oor die hele aarde verstrooi word.”

5. Die Here het toe afgekom om te kom kyk na die stad en sy toring wat die mense besig was om te bou.

6. “Nou kyk,” sê Hy, “as hulle, omdat hulle een taal praat, reeds aan die begin sulke dinge kan regkry, dink net wat sal hulle later kan doen. Niks sal meer vir hulle onmoontlik wees nie!

7. Kom, laat Ons afgaan en hulle verskillende tale laat praat sodat hulle mekaar nie kan verstaan nie.”

8. Op hierdie manier het die Here hulle van daar af oor die aarde versprei. Dit was ook die einde van hulle bouprojek van die stad.

9. Dit is dan ook hoekom die stad Babel genoem is, want dis waar die Here die mense se taal verwar het sodat hulle oor die aarde versprei het.

10. Hier volg die lys van Sem se nageslag.Toe Sem 100 jaar oud was, is sy seun Arpaksad gebore. Dit was twee jaar na die vloed.

11. Ná die geboorte van Arpaksad het Sem nog 500 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

12. Toe Arpaksad 35 jaar oud was, is sy seun Selag gebore.

13. Ná die geboorte van Selag het Arpaksad nog 403 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

14. Toe Selag 30 jaar oud was, is sy seun Heber gebore.

15. Ná die geboorte van Heber het Selag nog 403 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

16. Toe Heber 34 jaar oud was, is sy seun Peleg gebore.

17. Ná die geboorte van Peleg het Heber nog 430 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

18. Toe Peleg 30 jaar oud was, is sy seun Reü gebore.

19. Ná die geboorte van Reü het Peleg nog 209 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

Lees volledige hoofstuk Genesis 11