Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 1:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. God het beveel: “Laat die water op die aarde op een plek bymekaarkom sodat die droë grond te voorskyn kan kom!” Dit het presies so gebeur.

10. God noem toe die droë grond “land” en die versameling water noem Hy “see”. Ook dit was vir God goed.

11. Toe beveel God: “Laat plante uit die grond voortspruit wat saad dra en ook vrugtebome wat vrugte gee.” En dit het gebeur.

12. Die aarde het toe sulke plante voortgebring, asook vrugtebome van allerlei soorte. God het gesien dat dit goed was.

13. Dit het op die derde dag gebeur.

14. God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal.

15. Die ligte in die hemelkoepel moet ook die aarde verlig.” Dit het toe so gebeur.

16. So het God die twee groot ligte gemaak: die grootste om in die dag te skyn en die kleiner een om in die nag te skyn. Hy het ook die sterre gemaak.

17. God het hierdie ligte in die hemelkoepel geplaas om die aarde te verlig,

18. die een in die dag en die ander in die nag en ook om lig en donkerte van mekaar te skei. God het gesien dat dit goed was.

19. Dit het op die vierde dag gebeur.

20. God het verder beveel: “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.”

21. God het die groot seediere geskep, al die verskillende soorte wesens wat in die water lewe, asook al die baie soorte voëls. God was tevrede met wat Hy gesien het.

22. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die oseane en laat die voëls op die aarde vermeerder.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 1