hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ester doen soos sy gesê het

1. Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek. Sy het in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar die koning se troon is. Die koning was toe juis op sy troon met sy gesig na die ingang.

2. Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan. Hy het die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek om haar te verwelkom. Ester het nadergekom en aan die punt van die septer gevat.

3. Die koning vra haar toe: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat is jou versoek? Jy sal dit kry, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.”

4. Toe sê Ester: “As dit die koning behaag, sal hy en Haman dan asseblief vandag na die onthaal kom wat ek vir u voorberei het?”

5. Die koning sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Die koning en Haman is na die onthaal toe wat Ester reggemaak het.

6. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning vir Ester: “Wat is jou versoek? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.”

7. Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg:

8. As die koning my goedgesind is en bereid is om te gee wat ek vra deur my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal voorberei. Dan sal ek my wens aan die koning bekendmaak.”

Haman en Mordegai

9. Haman is daardie dag in ’n goeie bui en vrolik daar weg. Toe hy egter by die ingang van die paleis op Mordegai afkom en hy weer nie opstaan om aan hom eer te bewys nie, of glad nie wys dat hy bang is vir hom nie, het hy woedend geword vir Mordegai.

10. Haman het hom egter beteuel. Toe hy by die huis kom, het hy sy vriende en sy vrou Seres nadergeroep.

11. Haman het by hulle gespog oor hoe ryk hy is en oor hoe baie seuns hy het. Hy het uitgewei oor die koning wat hom so vereer het en hom bo al die ander hoë amptenare en onderdane van die koning bevorder het.

12. “En dit is ook nie al nie,” het hy verder gesê. “Koningin Ester het vandag net vir my saam met die koning uitgenooi na die onthaal wat sy gegee het. Boonop is ek uitgenooi om môre weer saam met die koning te eet.

13. Maar dit alles help my niks solank ek teen daardie Jood Mordegai in die poort van die paleis moet vaskyk nie.”

14. Sy vrou Seres en sy vriende stel toe voor: “Plant ’n paal van 23 meter hoog en vra môre-oggend vir die koning dat hulle Mordegai daaraan moet ophang. Jy kan dan met ’n vrolike hart saam met die koning na die onthaal toe gaan.” Haman het gedink dit is ’n goeie voorstel. Hy het toe die galg laat inplant.