hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10

Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Haman se plan

1. ’n Ruk na hierdie dinge gebeur het, het koning Ahasveros vir Haman, seun van Hammedata die Agagiet, bevordering gegee. Hy het hom in ’n posisie aangestel wat hoër is as enige van sy ander amptenare.

2. Die koning het bepaal dat al sy amptenare wat in die poort van sy paleis diens doen, voor Haman moes buig om aan hom eer te bewys. Mordegai het egter geweier om dit te doen.

3. Die koning se ander dienaars wat in die poort van die paleis gewerk het, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die opdrag van die koning?”

4. Dag na dag het hulle dit vir hom gevra, maar hy het volgehou om dit te ignoreer. Hulle het dit vir Haman gaan vertel, want hulle wou kyk of Mordegai by sy standpunt sou hou. Hy het ook vir hulle gesê dat hy ’n Jood is.

5. Toe Haman sien dat Mordegai nie voor hom wil buig om hom eer te bewys nie, was hy briesend.

6. Toe hy boonop ook hoor wat Mordegai se volksverband is, was dit nie vir hom goed genoeg om net vir Mordegai dood te maak nie. Haman het na ’n manier gesoek om sommer al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei.

7. Die lot is die Pur genoem. Dit is voor Haman gewerp in die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, om ’n presiese dag en maand te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar.

Haman oorreed die koning

8. Haman is toe na koning Ahasveros toe om vir hom te sê: “Daar is ’n sekere volk wat verspreid is in die provinsies van u koninkryk. Hulle hou hulle apart van al die ander volke. Hulle volg ander wette as dié van die ander nasies. Hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang dat hulle so lewe nie.

9. As dit vir die koning goed is, maak dan ’n wet om hulle uit te roei. Ek sal 342 ton silwer aan die regeringsamptenare betaal om dit in die skatkis te sit.”

10. Die koning is oorreed. Hy het sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman seun van Hammedata die Agagiet, die vyand van die Jode, gegee.

11. “Jy kan maar die geld vir jouself hou,” het die koning gesê, “maar maak met hierdie volk soos jy wil.”

12. Die koning se sekretarisse is op die dertiende van die eerste maand laat kom. Haman het beveel dat hulle alles aan die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk moes skryf. Dit was in hulle eie skrif en in hulle eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en met sy ring verseël.

13. Briewe is met hardlopers uitgestuur na elke provinsie van die koning met die opdrag dat al die Jode geheel en al uitgeroei moes word, oud en jonk, vrou en kind. Dit moes gebeur op die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Daar moes dan op hulle besittings beslag gelê word.

14. ’n Afskrif van die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan al die volke bekendgemaak word sodat hulle op daardie dag gereed kon wees.

15. Boodskappers het haastig met die koninklike bevel vertrek. Ook in die vestingstad Susan is die proklamasie afgekondig. Die koning en Haman het toe gaan sit om te drink. In die stad Susan was daar groot beroering.