Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 25:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. “Ek verander die stad Rabba in ’n weiveld vir kamele en Ammon sal ’n skaapkraal word. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.

6. “Die oppermagtige Here sê: Jy het ewe hatig jou hande geklap en voete gestamp en gejuig toe my volk vernietig is;

7. daarom lig Ek my vuis teen jou. Jy sal buit vir die nasies word. Jy sal nie meer ’n nasie wees nie. Ek vernietig jou heeltemal. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

8. “Die oppermagtige Here sê: Die mense van Moab en Seïr sê Juda is maar net soos al die ander nasies;

9. daarom stroop Ek Moab van sy stede, sy mooi stede. Bet-Jesimot, Baäl-Meon en Kirjatajim, die grensstede, sal verwoes word.

10. Ek gee Moab oor aan die mense van die ooste, net soos Ek met Ammon gemaak het. Die Ammoniete sal nie meer tussen die nasies getel word nie.

11. “Op dieselfde manier bring Ek my oordeel oor die Moabiete. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

12. “Die oppermagtige Here sê: Die mense van Edom het afgryslik gehandel toe hulle hulleself op die mense van Juda gewreek het.

13. Daarom sê die oppermagtige Here: Ek lig my vuis teen Edom om hom te oordeel. Mens en dier wis Ek uit met die swaard. Ek maak die land verlate. Van Teman tot by Dedan sal almal doodgemaak word.

14. Ek gebruik Israel om My op Edom te wreek. Hulle sal my woede op Edom afkoel. Edom sal my wraak smaak. Ek, die oppermagtige Here, het so gesê.”

15. “Die oppermagtige Here sê: Die Filistyne het wraaksugtig opgetree en hulle op Juda gewreek, want vir baie lank haat hulle die mense van Juda.

16. Daarom sê die oppermagtige Here: Ek lig my vuis van oordeel teen die land van die Filistyne. Ek wis die Kretense uit, die mense wat by die see leef.

17. Ek gaan My volledig op hulle wreek en hulle in my woede straf. En as Ek My op hulle gewreek het, sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 25