Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 18:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ek het nog ’n boodskap van die Here gekry:

2. “Hoekom gebruik julle dié spreekwoord in die land Israel: “‘Die ouers eet groen druiwe,en die kinders se tande word stomp’?

3. “So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, julle sal dit nie weer in Israel sê nie,

4. want Ek oordeel alle mense – ouers en kinders. Ek oordeel volgens dié reël: Die mens wat sondig, sal sterf.

5. “Veronderstel iemand is regverdig: hy doen wat goed en reg is;

6. hy vier nie saam fees voor die afgode van Israel,en aanbid hulle nie. Hy is nie ontrou aan sy eie vrou, en slaap nie by ’n vrou wat menstrueer nie.

7. Hy verdruk nie mense nie en gee goed terug wat hy in pand geneem het. Hy beroof niemand nie, maar gee kos vir honger mense en klere vir behoeftiges.

8. Hy leen nie geld op rente nie,en eis nie woekerwins nie. Hy weerhou hom van onreg en laat reg geskied tussen mense.

9. Hy lewe volgens my voorskrifte en is getrou aan my bepalings. So ’n persoon is regverdig.Hy sal waarlik bly lewe, sê die oppermagtige Here.

10. “Sê nou hierdie man het ’n seun wat ’n rower of moordenaar word. Hy weier om te doen wat reg is.

11. Hierdie seun doen al die bose dinge wat sy pa nooit sou doen nie: “Hy aanbid afgode op die berge en slaap by ander se vroue.

12. Hy verdruk arm en hulpelose mense. Hy beroof menseen gee nie goed terug wat hy in pand geneem het nie. Hy soek hulp by afgode en pleeg afskuwelike dade.

13. Hy leen geld uit op rente en eis woekerwins. “Sal so ’n mens lewe? Nee, hy het afskuwelike dinge gedoen en hy moet doodgemaak word. Hy moet die volle blaam dra.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 18