Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:31-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Jy bou altare vir jou afgode op elke straathoek en elke stadsplein. Jy is erger as ’n prostituut. Jy wou so graag sonde doen dat jy nie eens betaling vir jou liefde gevra het nie.

32. Jy is ’n slegte vrou wat ander mans verkies, maar nie jou eie man naby jou wil hê nie.

33. Prostitute vra geld vir hulle dienste. Maar nie jy nie. Jy betaal jou minnaars! Van oral af koop jy hulle om sodat hulle na jou toe sal kom.

34. Jy is die teenoorgestelde van ander prostitute. Niemand betaal jou vir jou liefde nie. Nee, jy betaal hulle!”

35. “Daarom, prostituut, luister na wat die Here vir jou sê!

36. So sê die oppermagtige Here: Jy het jou eer vir jou minnaars gegee en jou vir hulle kaal uitgetrek, en afskuwelike afgode aanbid. Jy het jou kinders as offers vir die afgode geslag.

37. Daarom gaan Ek jou minnaars bymekaarmaak, die mense met wie jy saam plesier gehad het, dié wat jy liefhet en dié wat jy haat. En Ek gaan jou voor hulle kaal uittrek sodat hulle na jou kan kyk.

38. Dan straf Ek jou soos ’n vrou gestraf word wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal met jou bloed betaal as Ek my woede en jaloesie op jou wreek.

39. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars, daardie baie nasies. Hulle sal die heiligdomme vir jou afgode en jou altare omgooi. Hulle sal jou uittrek en jou mooi juwele afvat, en jou kaal, sonder klere agterlaat.

40. Hulle sal saamkom en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde in stukke kap.

41. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie vroue straf. Ek sal sorg dat jy nie weer ’n prostituut kan word nie en nie meer jou minnaars kan betaal nie.

42. “Eers wanneer Ek my wraak teen jou laat uitwoed het, sal my woede afgekoel wees. Dan sal Ek kalm word en nie meer vir jou kwaad wees nie.

43. Maar eers gaan Ek jou ten volle laat boet vir jou sondes, want jy het jou jongdae vergeet toe jy hierdie dinge gedoen het. So sê die oppermagtige Here. Want by al jou walglike sondes het jy ook hierdie afstootlike dinge gedoen.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16