Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:2-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. “Mensekind, konfronteer Jerusalem met haar afskuwelike sondes.

3. Sê vir haar die oppermagtige Here sê: Jy is niks anders as ’n Kanaäniet nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet.

4. Toe jy gebore is, het niemand vir jou omgegee nie. Jou naelstring is nie afgesny nie. Jy is nooit gewas nie. Niemand het jou met sout ingevryf of vir jou warm klere aangetrek nie.

5. Niemand het in jou belanggestel om dit vir jou te doen nie. Niemand het vir jou omgegee of vir jou gesorg nie. Die dag toe jy gebore is, is jy in die veld gelos om dood te gaan. Niemand wou jou hê nie.

6. “Maar Ek het verbygekom en jou daar gesien. Jy het hulpeloos in jou eie bloed gelê en skop. Terwyl jy daar in jou bloed gelê het, het Ek gesê: ‘Lewe!’ Ja, waar jy in jou bloed gelê het, het Ek vir jou gesê: ‘Lewe!’

7. Ek het jou gehelp om soos ’n veldplant te groei. Jy het grootgeword en ’n mooi juweel geword. Jou borste het vol geword en jou hare het gegroei. Maar jy was nog kaal en sonder klere.

8. En toe Ek verbykom en jou weer sien, was jy oud genoeg om te trou. Daarom het Ek my jas vir jou aangetrek sodat jy nie kaal sou wees nie. Ek het ’n verbond met jou gesluit en met jou getrou, sê die oppermagtige Here. Jy het Myne geword.

9. “Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas. En Ek het olie aan jou lyf gesmeer.

10. Ek het vir jou duur klere gegee wat van linne en sy gemaak is en mooi uitgeborduur is, asook sandale wat van fyn leer gemaak is.

11. Ek het vir jou mooi juweliersware gegee: armbande en halssnoere,

12. ’n ring vir jou neus en oorringe, en ’n pragtige kroon op jou kop.

13. Jy was pragtig met jou goud en silwer. Jou klere was van fyn linne en mooi geborduur. Jy het die lekkerste kos geëet: fynmeel, heuning en olyfolie. Jy het mooier as tevore geword. Jy het soos ’n koningin gelyk. En jy was ook een!

14. Jy het oor die hele wêreld bekend geword omdat jy so mooi was. Ek het jou skoonheid met my glans volmaak gemaak, sê die oppermagtige Here.

15. “Maar toe het jy jou vertroue in jou beroemdheid en skoonheid begin stel. Jy het jouself as ’n prostituut aangebied vir elke man wat verbygegaan het. Jy het jouself uitverkoop.

16. En jy het die mooi klere wat Ek jou gegee het, gebruik om heiligdomme vir afgode te maak. Daar het jy as prostituut gelê. Ongelooflik! Hoe kan so iets gebeur?

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16