Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:15-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. “Maar toe het jy jou vertroue in jou beroemdheid en skoonheid begin stel. Jy het jouself as ’n prostituut aangebied vir elke man wat verbygegaan het. Jy het jouself uitverkoop.

16. En jy het die mooi klere wat Ek jou gegee het, gebruik om heiligdomme vir afgode te maak. Daar het jy as prostituut gelê. Ongelooflik! Hoe kan so iets gebeur?

17. Jy het jou juwele en die goud en silwer gevat wat Ek vir jou gegee het, en daarvan beeldjies van mans gemaak. En jy het hulle aanbid. So het jy egbreuk teen My gepleeg.

18. Jy het jou geborduurde klere gevat wat Ek jou gegee het, en vir jou afgode aangetrek. En jy het my olie en wierook gebruik om aan hulle te offer.

19. Verbeel jou! Jy het die fynmeel en olyfolie en heuning wat Ek jou gegee het, voor hulle as ’n offer neergesit, sê die oppermagtige Here.

20. “Jy het ook jou seuns en dogters, die kinders wat jy by My gehad het, gevat en aan jou afgode geoffer. Was dit nie genoeg dat jy ’n prostituut geword het nie?

21. Moes jy ook my kinders slag en aan jou afgode offer?

22. In al die jare wat jy egbreuk gepleeg en vreeslike sondes gedoen het, het jy nie een keer teruggedink aan die dae toe jy kaal in die veld gelê het nie. Daar het jy in jou eie bloed gelê en skop.

23. “Jy gaan sekerlik vernietig word, sê die oppermagtige Here. Ná al die verskriklike dinge wat jy aangevang het,

24. het jy ook ’n heiligdom vir jou afgode gebou. Jy het altare vir jou afgode op elke dorpsplein ingerig.

25. Op elke straathoek het jy ’n afgodsaltaar gebou en jou skoonheid verkoop. Jy het jou lyf aangebied vir elkeen wat verbygaan. Jy het nie opgehou om jou as prostituut uit te huur nie.

26. Jy het jouself ook verkoop aan jou goed bedeelde bure, die Egiptenaars. Jy het My baie kwaad gemaak deur aan te hou met jou afskuwelike dade.

27. Daarom het Ek jou met die vuis geslaan en jou grense ingekort. Ek het jou oorgegee aan jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle was geskok deur jou afskuwelike gedrag!

28. Jy het ook saam met die Assiriërs geslaap. Dit lyk of jy nie genoeg minnaars kon kry nie! En steeds was jy nie bevredig nie.

29. Jy het toe ook daardie groot handelsreus Babilon by jou lys minnaars gevoeg. Maar steeds was jy nie bevredig nie!

30. “Hoe siek is jy nie, sê die oppermagtige Here, dat jy aanhou om sulke dinge te doen! Jy is ’n prostituut wat geen skaamte ken nie!

31. Jy bou altare vir jou afgode op elke straathoek en elke stadsplein. Jy is erger as ’n prostituut. Jy wou so graag sonde doen dat jy nie eens betaling vir jou liefde gevra het nie.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16