Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:26-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Die enigste plek waar daar op daardie dag nie hael geval het nie, was in Gosen waar die Israeliete gebly het.

27. Die farao het toe dringend vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Ek het verkeerd gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my mense is verkeerd.

28. Bid tog tot die Here dat Hy hierdie verskriklike weerlig en hael laat ophou. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.”

29. “Goed so,” het Moses geantwoord. “Sodra ek uit die stad is, sal ek tot die Here bid om die hael en weerlig te laat ophou. Jy sal dan weet dat die aarde aan die Here behoort.

30. Ek weet egter dat jy en jou amptenare nog glad nie in die Here glo nie.”

31. Die vlas- en garsoes was daarmee heen. Die gars was op daardie stadium vol in die aar en die vlas het begin knoppe maak.

32. Die koring en die hawer was darem nog veilig, want dit het nog nie opgekom nie.

33. Moses is toe van die farao af weg en uit die stad uit. Toe hy sy hande opsteek en begin bid, het die weerlig opgehou slaan. Die hael en reën het opgehou val.

34. Toe die farao sien dat die weerlig ophou en die storm bedaar, het hy en sy amptenare maar weer begin oortree en geweier om te doen wat hulle belowe het.

35. Die farao het botweg geweier om die Israeliete te laat gaan. Dit was net soos die Here gesê het dit sal gebeur.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9