Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:26-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en hardop uitgeroep: “Almal wat aan die Here se kant is, kom staan hier by my!” Al die Leviete het by hom gaan staan.

27. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Elkeen moet sy swaard vat en van hoek tot kant almal in die kamp doodmaak, of dit nou broer, vriend of familielid is.’”

28. Die Leviete het net so gemaak soos Moses gesê het. Ongeveer 3 000 mans het daardie dag gesterf.

29. Moses het toe vir die Leviete gesê: “Julle het vandag julleself aan die Here toegewy. Julle het gedoen wat Hy gesê het, selfs al het dit beteken dat julle julle eie seuns en broers moes doodmaak. Die Here sal julle seën.”

30. Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was gesê: “Julle het verskriklik oortree. Ek sal egter weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir die sonde wat julle gedoen het.”

31. Moses het toe teruggegaan na die Here toe. Hy het vir Hom gesê: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike sonde gedoen. Hulle het vir hulle ’n afgod van goud gemaak.

32. Wil U nie maar asseblief hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waarin U dit opgeteken het.”

33. Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal net die name van dié wat teen My oortree het, uitvee uit die boek.

34. Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan. Ek sal met hulle wat gesondig het, afreken op die dag wanneer Ek hulle tot rekenskap roep.”

35. Die Here het ’n groot ramp oor die volk laat kom omdat hulle die kalf aanbid het wat Aäron vir hulle gemaak het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32