Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Moses het die hele volk Israel bymekaargeroep en gesê: “Luister baie goed na die voorskrifte en bepalings wat ek vandag aan julle gee. Leer dit en maak seker julle is gehoorsaam daaraan!

2. “Toe ons by Sinaiberg was, het die Here ons God ’n verbond met ons gesluit.

3. Die Here het die verbond nie net met ons voorouers gesluit nie, maar met almal van ons wat vandag hier is en nog lewe.

4. Die Here het persoonlik uit die vuur met ons op die berg gepraat.

5. Ek het as ’n bemiddelaar tussen julle en die Here gestaan, want julle was bang vir die vuur en wou nie teen die berg uitklim nie. Hy het met my gepraat en ek het sy woorde weer aan julle oorgedra. Dit is wat Hy gesê het:

6. “‘Ek is die Here julle God wat julle uit die slawerny van Egipte gered het.

7. “‘Moenie ander gode naas My aanbid nie.

8. “‘Moenie vir jou afgodsbeelde maak wat enigiets afbeeld wat bo in die lug of daaronder op die aarde of in die water onder die aarde is nie.

9. Jy mag hulle nooit voor hulle neerbuig om hulle te aanbid nie. Ek die Here jou God is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis. Ek hou die sondes van die vaders teen die kinders tot so ver as drie en vier geslagte lank.

10. My liefde deel Ek egter oorvloedig uit aan die mense wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam, selfs tot so ver as duisend geslagte aan.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5