Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 26:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Deur sy groot krag het die Here ons met magtige dade en wondertekens uit Egipte gelei.

9. Hy het ons na hierdie plek toe gebring en aan ons hierdie vrugbare land gegee.

10. Ek bring dan nou vir U, Here, die eerste opbrengs van die oes van die land wat U vir my gegee het.’ Dan moet jy dit voor die Here jou God neersit en Hom aanbid.

11. Gaan dan en geniet al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huishouding gee. Onthou om die Leviete en vreemdelinge wat onder jou woon ook by die feesvierings in te sluit.

12. “Elke derde jaar moet jy ’n spesiale tiende van jou oesopbrengs afstaan. Jy moet dit aan die Leviete, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gee sodat hulle genoeg kan hê om in hulle dorpe te eet.

13. Dan moet jy in die teenwoordigheid van die Here jou God verklaar: ‘Ek het hierdie heilige gawe uit my huis geneem en dit aan die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees gegee net soos U my beveel het. Ek het nie een van u opdragte oortree of vergeet nie.

14. Ek het nie iets daarvan geëet terwyl ek gerou het nie; ek het nie daaraan geraak toe ek seremonieel onrein was nie en ek het niks daarvan aan dooies geoffer nie. Ek was gehoorsaam aan die Here my God en het alles gedoen wat Hy my beveel het.

15. Kyk tog af uit u heilige woning in die hemel en seën u volk Israel en hierdie vrugbare land wat U aan ons gegee het, net soos U plegtig aan ons voorouers beloof het.’”

16. “Die Here jou God beveel jou vandag om al hierdie voorskrifte en bepalings na te kom. Verbind jou van harte daartoe.

17. Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is. Jy het belowe om al die voorskrifte, opdragte en bepalings te gehoorsaam deur in sy weë te wandel en alles te doen wat Hy jou beveel.

18. Die Here het vandag verklaar dat jy sy volk is, sy kosbare besitting, net soos Hy beloof het, en dat jy al sy opdragte moet gehoorsaam.

19. As jy so maak, sal Hy jou groter maak as enige ander nasie. Dan sal jy lof, eer en roem ontvang. Jy sal ’n heilige volk vir die Here jou God wees, soos wat Hy beloof het.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 26