Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 26:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee, en jy dit in besit geneem het en jou daarin gevestig het,

2. sit van die eerste opbrengs van elke oes in ’n mandjie en bring dit na die plek waar die Here jou God sal verkies dat sy Naam geëer word.

3. Gaan na die priester wat dan aan diens is en sê vir hom: ‘Met hierdie gawe erken ek dat die Here jou God my in hierdie land ingebring het wat Hy aan ons voorouers beloof het.’

4. Die priester sal dan die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God gaan neersit.

5. Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My voorouer was ’n Arameër wat rondgeswerf het en in Egipte gaan bly het. Sy familie was maar klein, maar in Egipte het hy ’n groot en talryke nasie geword.

6. Toe die Egiptenaars ons mishandel en verneder het deur ons hulle slawe te maak,

7. het ons tot die Here, die God van ons voorouers, geroep. Hy het ons gehoor en ons swaarkry, harde werk en onderdrukking raakgesien.

8. Deur sy groot krag het die Here ons met magtige dade en wondertekens uit Egipte gelei.

9. Hy het ons na hierdie plek toe gebring en aan ons hierdie vrugbare land gegee.

10. Ek bring dan nou vir U, Here, die eerste opbrengs van die oes van die land wat U vir my gegee het.’ Dan moet jy dit voor die Here jou God neersit en Hom aanbid.

11. Gaan dan en geniet al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huishouding gee. Onthou om die Leviete en vreemdelinge wat onder jou woon ook by die feesvierings in te sluit.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 26