Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 23:14-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die kamp moet heilig wees, want die Here jou God is daar saam met jou in die kamp om jou te beskerm en om jou vyande te verslaan. Hy mag niks skandeliks onder julle sien nie sodat Hy nie van julle wegdraai nie.

15. “As slawe dit regkry om van hulle eienaars te ontsnap en hulle kom soek skuiling by jou, mag jy hulle nie uitlewer aan hulle eienaars nie.

16. Laat hulle tussen julle leef in watter dorp hulle ook al kies en moet hulle nie onderdruk nie.

17. “Geen Israelitiese man of vrou mag ooit ’n tempelprostituut word nie.

18. Jy mag geen offer uit die inkomste van ’n manlike of vroulike prostituut na die huis van die Here jou God toe bring nie, want die Here verag albei.

19. “Moenie rente hef op lenings wat jy aan ’n mede-Israeliet maak nie, of dit nou geld, kos of wat ook al is waarvoor daar teen rente geleen mag word.

20. Jy mag rente hef van vreemdelinge, maar nie van mede-Israeliete nie sodat die Here jou God jou mag seën in die land wat jy nou gaan binnetrek en in besit gaan neem.

21. “As jy ’n gelofte teenoor die Here jou God maak, moenie uitstel om na te kom wat jy Hom belowe het nie. Die Here jou God vereis dat jy jou geloftes sal nakom. As jy dit nie doen nie, is jy skuldig aan sonde.

22. Maar om jou te weerhou van ’n gelofte, is geen sonde nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 23