Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 22:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Moenie maak asof jy jou naaste se verdwaalde bees of skaap nie raaksien nie. Bring dit terug na sy eienaar.

2. As dit nie aan iemand behoort wat naby jou is nie, of as jy nie weet wie die eienaar is nie, hou dit by jou totdat die eienaar daarna begin soek en gee dit dan aan hom terug.

3. Doen dieselfde met jou naaste se donkie of klere of enigiets anders wat jou naaste verloor het. Moenie jou plig ontduik nie.

4. “As jy jou naaste se bees of donkie in die pad sien lê, moenie anderpad kyk nie. Gaan en help jou naaste om die dier op te help!

5. “’n Vrou mag nie mansklere dra nie en ’n man mag nie vroueklere dra nie. Die Here verafsku mense wat sulke dinge doen.

6. “As jy ’n voëlnes op die grond of in ’n boom teëkom en daar is kleintjies of eiers in met ’n ma wat daarop sit, mag jy nie die ma saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7. Jy mag die kleintjies vat, maar laat die ma wegvlieg sodat dit goed kan gaan met jou en jy ’n lang lewe mag geniet.

8. “As jy ’n nuwe huis bou, moet daar ’n veiligheidsreling om die rand van die plat dak wees sodat iemand nie van die dak afval en jy jou huishouding skuldig maak aan bloedvergieting nie.

9. “Moenie ander saad tussen die rye van jou wingerd plant nie. As jy dit doen, mag jy nie die druiwe van die wingerd of die opbrengs van daardie saad gebruik nie.

10. “Moenie ploeg met ’n bees en donkie wat jy saam ingespan het nie.

11. “Moenie klere dra wat gemaak is van wol wat saam met linne geweef is nie.

12. “Jy moet tossels aanwerk op die vier hoeke van die mantels wat jy dra.”

13. “Dit kan gebeur dat ’n man met ’n vrou trou en nadat hy by haar geslaap het, besluit dat hy nie meer van haar hou nie

14. en haar valslik beskuldig dat sy haar wangedra het. Hy kan sê: ‘Ek het ontdek dat sy nie ’n maagd was toe ek met haar getrou het nie.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 22