Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 20:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Wanneer jy uittrek om teen jou vyande te gaan veg en jy sien hulle perde en strydwaens en ’n leër groter as joune, moet jy nie bang wees nie. Die Here jou God wat jou uit Egipte laat optrek het, is by jou!

2. Voordat jy ’n geveg begin, moet ’n priester kom om met die troepe te praat.

3. Hy sal sê: ‘Luister na my, manskappe van Israel! Moenie bang wees as julle vandag uittrek om te gaan veg nie! Moenie bang of verskrik wees nie,

4. want die Here julle God gaan saam met julle! Hy sal vir julle teen julle vyande veg en Hy sal aan julle die oorwinning gee!’

5. “Dan sal die offisiere van die leër die troepe toespreek en sê: ‘Het iemand pas ’n nuwe huis gebou, maar nog nie ingetrek nie? Jy kan dalk omkom in die geveg en dan moet iemand anders in jou huis bly.

6. Het iemand ’n wingerd geplant en nog nie van die vrugte daarvan geëet nie? In so ’n geval, gaan huis toe! Jy kan dalk omkom in die geveg en dan is daar iemand anders wat jou druiwe gaan eet!

7. Het iemand pas verloof geraak? Gaan huis toe en gaan trou! Jy kan dalk in die geveg omkom en dan is daar iemand anders wat met jou verloofde trou.’

8. Dan sal die offisiere ook vra: ‘Is daar een van julle wat bang is? As dit so is, gaan dan huis toe voordat jy ook ander bang maak.’

9. “Wanneer die offisiere klaar met die troepe gepraat het, sal hulle die name van die eenheidsbevelvoerders aankondig.

10. “As jy ’n stad nader om dit aan te val, maak eers ’n vredesaanbod.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 20