Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 8:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys.

9. Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het.

10. Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap.

11. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse magte aangedurf. Hy het die gereelde offer wat vir God gebring word tot niet gemaak en sy tempel verwoes.

12. Deur sy verkeerde optrede is die hemelse magte aan hom uitgelewer, die gereelde offer opgehef en die waarheid in die grond vertrap. Hy was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.

13. Ek het in ’n gesprek tussen twee heiliges die een vir die ander hoor vra: “Hoe lank hou die visioen aan, die visioen van die daaglikse offer, die opstand wat verwoes en die heiligdom en hemelse mag wat vertrap word?”

14. Die ander een het geantwoord: “2 300 dae dan sal die heiligdom weer gewy word.”

15. Terwyl ek, Daniël, nagedink het oor die visioen wat ek gesien het, het daar skielik iemand voor my kom staan wat soos ’n man lyk.

16. Ek het langs die Ulairivier ’n mens se stem hoor roep wat sê: “Gabriël, verduidelik tog vir hierdie man wat die gesig beteken!”

17. Hy het na die plek toe gekom waar ek gestaan het. Toe hy naderkom, het ek so bang geword dat ek vooroor geval het. Hy het vir my gesê: “Jy moet verstaan, mens, dat die visioen te doen het met die eindtyd.”

18. Terwyl hy besig was om met my te praat, het ek flou op die grond neergeval. Hy het aan my gevat en my op my voete gehelp.

19. Hy sê toe vir my: “Ek lig jou in oor waarheen God se verontwaardiging gaan lei. Dit gaan oor die eindtyd.

20. Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van Medië en Persië.

21. Die bok is die koning van Griekeland. Die groot horing tussen sy oë is die eerste Griekse koning.

Lees volledige hoofstuk Daniël 8