Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 3:22-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Omdat die koning beveel het dat die vuur so warm gemaak moet word, het die vlamme uit die oond die mense doodgebrand wat Sadrag, Mesag en Abednego in die oond gegooi het.

23. Die drie mans, Sadrag, Mesag en Abednego, het so vasgebind in die brandende oond beland.

24. Koning Nebukadnesar was egter verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?” “Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê.

25. Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.”

26. Nebukadnesar het so naby hy kan aan die deur van die vlammende oond gaan staan. Hy het geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van God die Allerhoogste, kom uit en kom hier na my toe!” Sadrag, Mesag en Abednego het toe uit die vlammende oond gekom.

27. Die amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs en ministers van die koning het om hulle saamgedrom. Hulle het gesien dat die vuur niks aan hulle gemaak het nie. Die hare op hulle kop was nie eers geskroei nie. Hulle klere het niks oorgekom nie en hulle het nie na rook geruik nie.

28. Nebukadnesar het gesê: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om sy dienaars wat op Hom vertrou het, te red. Hulle het die koning se bevel verontagsaam en was bereid om hulle lewens te gee eerder as om eer te bewys aan enige ander god of enigeen buiten hulle eie God te dien.

29. Ek vaardig nou ’n wet uit dat enige volk, nasie of taal wat sonder respek oor Sadrag, Mesag en Abednego se God praat, in stukke gekap word, en van hulle huise sal ’n ashoop gemaak word. Daar is geen ander god wat so kan red soos Hy nie!”

30. Daarna het hy Sadrag, Mesag en Abednego bevorder en nog hoër posisies aan hulle in die provinsie van Babel gegee.

Lees volledige hoofstuk Daniël 3