Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:33-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. “Kom saam met my oor en kom woon in Jerusalem,” sê die koning vir Barsillai. “Ek sal daar vir jou sorg.”

34. “Nee dankie,” antwoord hy. “Ek is heeltemal te oud om saam met die koning Jerusalem toe te gaan.

35. Ek is 80 jaar oud en kan nie meer baie geniet nie. Ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie. Ek kan ook nie meer die stemme van sangers en sangeresse waardeer nie. Ek sal net ’n oorlas wees vir my heer die koning.

36. U dienaar het maar ’n klein entjie saam met die koning gekom. Hoekom sou die koning my met so ’n beloning wou vergoed?

37. Laat my teruggaan om in my eie dorp te sterf, daar waar my pa en ma begrawe is. Maar hier is my seun Kimham. Laat hy saam met u gaan en doen aan hom soos wat u verkies.”

38. “Dis goed so,” sê die koning. “Kimham kan saam met my gaan. Ek sal vir hom doen wat ek dink goed is, en ook enigiets wat jy van my verwag.”

39. Daarna het die soldate saam met die koning die Jordaanrivier oorgesteek. Nadat Dawid hom omhels en geseën het, het Barsillai na sy huis toe teruggegaan.

40. Die koning het toe deurgetrek en is na Gilgal toe en Kimham het saam met hom gegaan. Die hele leër van Juda en die helfte van die leër van Israel het saam met die koning getrek.

41. Maar toe kom al die manne van Israel na die koning toe en sê vir die koning: “Hoekom het ons broers, die manne van Juda, u geskaak? Hulle het die koning en sy huishouding en al die manskappe van Dawid deur die Jordaanrivier gebring.”

42. “Hoekom nie?” het die mense uit Juda geantwoord. “Die koning is tog ons familie. Hoekom word julle daaroor kwaad? Het ons dalk op sy rekening geëet of het ons daarvoor vergoeding gekry?”

43. “Maar daar is tien stamme in Israel,” sê die ander stamme. “Ons het dus tien keer meer reg op die koning. Hoekom het julle ons nie in die saak geken nie? Het ons nie eerste gepraat oor die terugbring van ons koning nie?” Verwyte is heen en weer geslinger en die manne van Juda was meer bitsig in hulle antwoord.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19