Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:30-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. “Noudat u weer veilig tuis is, kan hy ook maar alles kry, my heer!” sê Mefiboset.

31. Barsillai die Gileadiet het uit Rogelim daar aangekom om die koning oor die Jordaan te help.

32. Hy was baie oud, 80 jaar oud. Hy was welgesteld en kon die koning gedurende sy verblyf in Maganajim onderhou.

33. “Kom saam met my oor en kom woon in Jerusalem,” sê die koning vir Barsillai. “Ek sal daar vir jou sorg.”

34. “Nee dankie,” antwoord hy. “Ek is heeltemal te oud om saam met die koning Jerusalem toe te gaan.

35. Ek is 80 jaar oud en kan nie meer baie geniet nie. Ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie. Ek kan ook nie meer die stemme van sangers en sangeresse waardeer nie. Ek sal net ’n oorlas wees vir my heer die koning.

36. U dienaar het maar ’n klein entjie saam met die koning gekom. Hoekom sou die koning my met so ’n beloning wou vergoed?

37. Laat my teruggaan om in my eie dorp te sterf, daar waar my pa en ma begrawe is. Maar hier is my seun Kimham. Laat hy saam met u gaan en doen aan hom soos wat u verkies.”

38. “Dis goed so,” sê die koning. “Kimham kan saam met my gaan. Ek sal vir hom doen wat ek dink goed is, en ook enigiets wat jy van my verwag.”

39. Daarna het die soldate saam met die koning die Jordaanrivier oorgesteek. Nadat Dawid hom omhels en geseën het, het Barsillai na sy huis toe teruggegaan.

40. Die koning het toe deurgetrek en is na Gilgal toe en Kimham het saam met hom gegaan. Die hele leër van Juda en die helfte van die leër van Israel het saam met die koning getrek.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19