Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg was vir die Here soos sy voorvader Dawid gedoen het nie.

2. Hy het eerder die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en het beelde van die Baäls laat giet.

3. Hy het in die Ben-Hinnomvallei offers gebring, en selfs van sy seuns laat verbrand. Dit was in navolging van die afskuwelike praktyke van die heidense nasies wat deur die Here voor die Israeliete uit die land verdryf is.

4. Hy het offerandes en wierook op die hoogtes, op al die heuwels en onder elke groen boom gebring.

5. Dit is waarom die Here sy God toegelaat het dat die koning van Aram vir Agas verslaan en ’n groot aantal van sy volk na Damaskus weggevoer het. God het hom ook oorgegee aan die koning van Israel, en hy het hom ’n groot neerlaag toegedien.

6. Op ’n enkele dag het Peka seun van Remalja 120 000 van Juda se soldate doodgemaak omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het.

7. Toe het Sikri, ’n krygsman uit Efraim, vir Maäseja seun van die koning, Asrikam die paleisbestuurder en die onderkoning Elkana doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28