Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op ’n keer kom die groep profete na Elisa toe en sê vir hom: “Soos u kan sien, is hierdie plek waar ons saam met u byeenkom, te klein vir ons.

2. Laat ons afgaan na die Jordaanrivier toe waar elkeen ’n paal kan gaan kap. Ons kan daar ’n nuwe vergadersaal bou.”“Goed,” sê hy. “Gaan gerus.”

3. “Kom tog saam met ons!” vra een van hulle.“Goed, ek kom saam,” sê hy.

4. Hy het saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, begin hulle bome afkap.

5. Terwyl een van hulle besig was om ’n boom te kap, val sy byl in die water. “Ag, Meneer!” roep hy uit. “Dit is ’n geleende byl!”

6. “Waar het dit ingeval?” vra die man van God. Die man wys toe vir hom die plek. Elisa het ’n stok afgekap en dit in die water gegooi. Die byl het boontoe gekom en gedryf.

7. “Gryp dit,” sê Elisa vir hom. Die man het sy hand uitgesteek en dit gegryp.

8. Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.”

9. Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6