Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:18-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Elisa was nog in Jerigo toe hulle terugkom. “Het ek dan nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?” vra hy.

19. Die inwoners van Jerigo het Elisa besoek en gesê: “Hierdie dorp is in ’n pragtige omgewing geleë, soos u self kan sien. Maar die water is onbruikbaar en die landerye is onvrugbaar.”

20. Elisa sê: “Bring vir my ’n nuwe skottel met sout daarin.” Hulle het dit gedoen.

21. Toe gaan hy na die fontein waar die dorp water vandaan gekry het en gooi die sout daarin. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Ek maak hierdie water bruikbaar. Dit sal nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.”

22. Die water het tot vandag toe bruikbaar gebly, net soos Elisa gesê het.

23. Elisa het daarna na Bet-El toe opgegaan. Terwyl hy in die pad loop, kom ’n groep klein seuntjies uit die dorp en begin hom spot. “Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep. “Gaan op, kaalkop!”

24. Elisa het omgedraai, na hulle gekyk en hulle in die Naam van die Here vervloek. Toe kom daar twee bere uit die bos en verskeur 42 van hulle.

25. Daarvandaan het Elisa na Karmelberg gegaan, en daarna terug na Samaria toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2