Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:33-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. Hoewel hulle die Here vereer het, het hulle voortgegaan om ook die godsdienstige gebruike van die nasies waaruit hulle gekom het, te beoefen.

34. Tot vandag toe nog beoefen hulle hulle vorige praktyke en is hulle nie gehoorsaam aan die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat die Here gegee het vir die afstammelinge van Jakob wie se naam Hy na Israel verander het nie.

35. Want dis met die afstammelinge van Jakob dat die Here ’n verbond gemaak en hulle beveel het: “Moenie enige ander gode vereer, voor hulle buig, hulle dien, of aan hulle offers bring nie.

36. Julle moet net die Here vereer, Hy wat julle met wonderwerke en groot mag en krag uit Egipte gebring het. Hom moet julle vereer, voor Hom buig, en aan Hom offers bring.

37. Sorg dat julle al die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat Hy vir julle neergeskryf het, gehoorsaam. Julle moenie ander gode dien nie.

38. Moenie die verbond wat Ek met julle gesluit het, vergeet nie en moenie ander gode dien nie.

39. Net die Here julle God moet julle aanbid. Hy sal julle uit die mag van al julle vyande verlos.”

40. Maar die mense wou nie luister nie en het met hulle ou gebruike voortgegaan.

41. Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar het ook hulle afgodsbeelde vereer. Tot vandag toe maak hulle afstammelinge nog soos hulle voorvaders.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17