Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:29-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Maar elkeen van die nasies het tog voortgegaan om ook hulle eie afgode te maak in die stede en dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het dit neergesit in die tempels op die hoogtes wat die mense van Samaria destyds opgerig het.

30. Die mense uit Babel het Sukkot-Benot gemaak, dié uit Kuta vir Nergal, dié uit Hamat vir Asima,

31. en die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het selfs hulle kinders ter ere van hulle gode Adrammelek en Anammelek verbrand.

32. Hierdie inwoners het wel die Here vereer, maar het tog uit eie geledere priesters aangestel om in die heiligdomme op die hoogtes diens te doen.

33. Hoewel hulle die Here vereer het, het hulle voortgegaan om ook die godsdienstige gebruike van die nasies waaruit hulle gekom het, te beoefen.

34. Tot vandag toe nog beoefen hulle hulle vorige praktyke en is hulle nie gehoorsaam aan die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat die Here gegee het vir die afstammelinge van Jakob wie se naam Hy na Israel verander het nie.

35. Want dis met die afstammelinge van Jakob dat die Here ’n verbond gemaak en hulle beveel het: “Moenie enige ander gode vereer, voor hulle buig, hulle dien, of aan hulle offers bring nie.

36. Julle moet net die Here vereer, Hy wat julle met wonderwerke en groot mag en krag uit Egipte gebring het. Hom moet julle vereer, voor Hom buig, en aan Hom offers bring.

37. Sorg dat julle al die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat Hy vir julle neergeskryf het, gehoorsaam. Julle moenie ander gode dien nie.

38. Moenie die verbond wat Ek met julle gesluit het, vergeet nie en moenie ander gode dien nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17