Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die 27ste jaar van koning Jerobeam II van Israel het Asarja seun van Amasia koning van Juda geword.

2. Hy was toe sestien jaar oud en het 52 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja van Jerusalem.

3. Hy het gedoen wat vir die Here reg was, presies soos sy pa Amasia gedoen het.

4. Die hoogtes waar die volk vir die afgode geoffer het en wierook gebrand het, het hy egter nie vernietig nie.

5. Die Here het die koning met melaatsheid getref en hy het tot sy dood toe in ’n plek van afsondering gewoon. Sy seun Jotam het die paleis beheer en oor die hele land as regent opgetree.

6. Die ander gebeurtenisse tydens Asarja se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.

7. Toe Asarja sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.

8. In die 38ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda, het Sagaria seun van Jerobeam II koning geword oor Israel. Hy het ses maande in Samaria regeer.

9. Maar Sagaria het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.

10. Sallum seun van Jabes het teen Sagaria saamgesweer, hom voor almal vermoor en in sy plek koning geword.

11. Die ander gebeurtenisse tydens Sagaria se regering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

12. Op hierdie manier het die Here se boodskap aan Jehu waar geword, naamlik: “Jou nageslag sal tot die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

13. Sallum seun van Jabes het koning oor Israel geword in die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda. Sallum het net een maand in Samaria geheers.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15