Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:18-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Op daardie oomblik gaan Saul na Samuel toe en vra: “Kan u asseblief vir my sê waar die huis van die siener is?”

19. “Ek is die siener!” antwoord Samuel. “Gaan solank voor my teen die hoogte uit na die offerplek toe. Daar sal ons saam eet. Môre-oggend sal ek vir jou sê wat jy wil weet en jou dan laat gaan.

20. En moet jou nie meer bekommer oor jou pa se donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie, want hulle is alreeds gevind. Die hoop van die hele Israel is egter op jou en jou familie gerig.”

21. Saul antwoord hom: “Ek is maar net ’n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam! Hoekom praat u so met my?”

22. Samuel neem toe vir Saul en die jong man na die eetvertrek en laat hulle op ’n ereplek sit saam met die ongeveer 30 genooides.

23. Daarna sê Samuel vir die kok: “Bring dit wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te sit.”

24. Die kok bring toe die boud vleis en sit dit neer voor Saul. Samuel sê toe: “Eet wat aan jou voorgesit is. Ek het dit vir jou gebêre voordat ek die ander genooi het!” So het Samuel en Saul op dié dag saamgeëet.

25. Daarna, nadat hulle van die hoogte af terug na die dorp toe gegaan het, het Samuel op die dak van die huis met Saul gepraat.

26. Die volgende oggend het hulle vroeg opgestaan. Reeds teen dagbreek het Samuel vir Saul op die dak geroep en gesê: “Staan op sodat ek jou kan afsien!” Saul het opgestaan en hulle het saam buitentoe gegaan.

27. Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir hom: “Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het ’n boodskap van God vir jou.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9