Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 8:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Samuel ouer begin word, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel.

2. Sy twee oudste seuns, Joël en Abia, was rigters in Berseba.

3. Hulle het anders as Samuel opgetree en was ingestel op eie gewin en omkopery, en selfs in die regspraak was hulle korrup.

4. Die leiers van Israel het toe by Rama bymekaargekom en die saak met Samuel bespreek.

5. “Kyk,” sê hulle vir hom, “u is nou al bejaard en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel vir ons ’n koning aan soos die gebruik is by al die ander nasies.”

6. Samuel was baie ontsteld oor hierdie versoek en het eers die Here gaan raadpleeg.

7. “Maak soos hulle sê,” antwoord die Here, “want dis nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir My wat hulle nie meer as hulle koning wil hê nie.

8. Sedert Ek hulle uit Egipte verlos het, het hulle My aanhoudend verwerp en ander gode gedien. Nou maak hulle net so met jou ook.

9. Doen soos hulle vra, maar waarsku hulle ernstig oor wat ’n koning met hulle sal doen.”

10. Samuel het toe die waarskuwing van die Here aan die mense oorgedra.

11. “Dis hoe ’n koning met julle sal maak,” sê hy. “Die koning sal die reg hê om julle seuns op te roep vir sy diens, sommige by sy wa en perderuiters, ander om voor sy wa uit te hardloop.

12. “Sommige sal bevelvoerders van sy troepe wees en ander sal sy landerye ploeg en oes; nog ander sal vir hom wapens maak en toerusting vir sy strydwaens.

13. “Julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, en om te kook en te bak.

14. Hy sal die beste landerye, wingerde en olyfboorde vir hom vat en aan sy amptenare gee.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 8