Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:13-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. “Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas.

14. Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig.

15. Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie.

16. Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape.

17. Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!”

18. Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai

19. en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie.

20. Terwyl sy op ’n donkie ’n bergkloof afgaan, sien sy vir Dawid en sy manskappe wat in haar rigting aankom.

21. Dawid het so pas gedink: “Dis verniet dat ons hierdie vent se kuddes in die woestyn beskerm het sodat niks van sy besittings weggeraak het of gesteel is nie. Maar hy het my goedheid met kwaad vergeld.

22. Mag God met my afreken indien selfs net een manlike lid van sy huishouding teen môre-oggend nog lewe!”

23. Toe Abigajil vir Dawid sien, klim sy vinnig van die donkie af. Sy buig laag voor hom.

24. Sy val toe by sy voete neer en sê: “Verskoon my tog asseblief, Meneer. Luister tog na wat ek vertroulik vir u wil sê.

25. Nabal is ’n niksnut. Asseblief, moenie u aan hom steur nie. Hy is soos sy naam lui ’n dwaas. Ek het ongelukkig nooit eens u boodskappers te sien gekry nie.

26. “Maar nou, my heer, so seker as wat die Here leef en u leef, aangesien die Here u weerhou het van bloedvergieting en om self wraak te neem, mag al u vyande word soos Nabal, elkeen wat kwaad teen u beplan.

27. “Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is.

28. Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die Here sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die Here se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.

29. “Selfs wanneer iemand u agtervolg om u dood te maak, mag u lewe dan veilig wees in die bewaring van die Here u God! Maar mag Hy die lewens van u vyande weggooi soos klippe uit ’n slingervel!

30. “Wanneer die Here al die goeie dinge gedoen het wat Hy u beloof het en u leier van Israel gemaak het,

31. mag hierdie saak nie ’n klad op u naam wees en onskuldige bloedvergieting en wraak op u gewete gaan lê nie. En wanneer die Here hierdie groot dinge aan u gedoen het, onthou my dan asseblief!”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25