Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Samuel is toe dood. Die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe.Dawid het na die Maonwoestyn toe getrek.

2. Daar was ’n ryk man in Maon wat ’n plaas in Karmel gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was besig om in Karmel te skeer.

3. Die man se naam was Nabal en sy vrou s’n Abigajil. Sy was ’n verstandige en mooi vrou. Maar Nabal, ’n Kalebiet, was rof en onbeskof in alles wat hy gedoen het.

4. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer,

5. stuur hy tien van sy jong manne na Karmel toe met die volgende boodskap: “Gaan na Karmel toe en wanneer julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan.

6. Sê dan vir hom: ‘Mag jy lank in vrede lewe! Voorspoed ook vir jou familie en alles wat aan jou behoort!

7. Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie.

8. Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’”

9. Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25