Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die Here te hoor wat hom te doen staan.

10. Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is.

11. Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.”Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.”

12. Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?”En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.”

13. Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie.

14. Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.

15. Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif.

16. Jonatan het daar na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.

17. “Moenie bang wees nie,” verseker Jonatan hom. “My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning van Israel word en ek sal onder jou dien. My pa weet dit baie goed.”

18. Die twee het toe hulle ooreenkoms opnuut met ’n eed voor die Here bevestig. Daarna is Jonatan terug huis toe, terwyl Dawid verder in Goresa gebly het.

19. Die mense van Sif gaan toe na Saul in Gibea en sê: “Dawid kruip weg by ons in die skuilplekke van Goresa op die Gakilahoogte wat suid van die woestyn is.

20. As dit vir die koning goed is, kom hierheen, en ons sal hom aan u uitlewer!”

21. “Mag die Here julle seën,” sê Saul. “Daar is tog mense wat vir my omgee.

22. Gaan kyk en maak seker waar hy hom bevind en wie hom gesien het, want ek het verneem hy is baie uitgeslape.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23