Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 23:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.

15. Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif.

16. Jonatan het daar na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.

17. “Moenie bang wees nie,” verseker Jonatan hom. “My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning van Israel word en ek sal onder jou dien. My pa weet dit baie goed.”

18. Die twee het toe hulle ooreenkoms opnuut met ’n eed voor die Here bevestig. Daarna is Jonatan terug huis toe, terwyl Dawid verder in Goresa gebly het.

19. Die mense van Sif gaan toe na Saul in Gibea en sê: “Dawid kruip weg by ons in die skuilplekke van Goresa op die Gakilahoogte wat suid van die woestyn is.

20. As dit vir die koning goed is, kom hierheen, en ons sal hom aan u uitlewer!”

21. “Mag die Here julle seën,” sê Saul. “Daar is tog mense wat vir my omgee.

22. Gaan kyk en maak seker waar hy hom bevind en wie hom gesien het, want ek het verneem hy is baie uitgeslape.

23. Soek sy skuilplek en bring vir my meer inligting. Dan sal ek saam met julle gaan. As hy hoegenaamd in die omgewing is, sal ek hom opspoor onder al die duisende in Juda!”

24. Hulle het toe voor Saul uit teruggegaan na Sif toe. Intussen het Dawid en sy krygers verskuif na die Maonwoestyn in die dorre landstreek suid van die woestyn.

25. Toe Dawid hoor dat Saul en sy leër hom soek, het hy nog dieper die woestyn ingetrek na die groot rots in die woestyn van Maon. Maar Saul het dit gehoor en hom in die Maonwoestyn agtervolg.

26. Saul het aan die een kant om die berg gegaan, en Dawid en sy manskappe aan die ander kant. Dawid het haastig van Saul se leër probeer ontvlug. Net toe Saul en sy magte op die punt was om Dawid en sy manne vas te trek,

27. ontvang Saul ’n dringende boodskap: “Maak gou! Die Filistyne is besig om strooptogte in Israel uit te voer!”

28. Saul moes toe noodgedwonge die agtervolging staak en terugkeer huis toe om die Filistynse inval te keer. Van toe af is daardie plek die Rots van Skeiding genoem.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 23