Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dawid vlug toe uit die profetekwartiere in Rama en kom by Jonatan aan. Hy vra hom: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding, en wat het ek teen jou pa verkeerd gedoen dat hy my lewe soek?”

2. “Nee!” antwoord Jonatan. “Jy sal nie doodgemaak word nie! Kyk, my pa sal niks, groot of klein, doen sonder dat ek dit weet nie. En hoekom sou my pa so iets vir my wegsteek? Nee, dit is nie so nie.”

3. Maar Dawid het onder eed gesê: “Jou pa weet dat ons goed bevriend is en toe dink hy: ‘Ek sal dit nie vir Jonatan sê nie sodat ek hom nie seermaak nie.’ Wees verseker, so waar as die Here en jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood.”

4. “Wat jy ook al voorstel, sal ek vir jou doen,” sê Jonatan.

5. Dawid antwoord hom: “Kyk, dis môre nuwemaan. Ek behoort saam met die koning aan tafel te sit. Stuur my weg dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand.

6. As jou pa oor my navraag doen, moet jy sê: ‘Dawid het dringend gevra om na sy tuisdorp Betlehem te gaan sodat hy daar die jaarlikse feesviering saam met sy familie kan vier.’

7. As hy sê: ‘Dis goed!’ beteken dit ek is veilig. Maar as hy baie kwaad word, moet jy weet dat hy reeds besluit het om my om die lewe te bring.

8. Wys dat jy aan my getrou is, want jy het voor die Here ’n verbond met my gesluit. As ek teen jou pa oortree het, moet jy my self doodmaak. Dit sal dan nie nodig wees om my aan jou pa uit te lewer nie.”

9. “Nooit!” sê Jonatan. “As ek seker is my pa het vas besluit om jou dood te maak, sal ek jou beslis daaroor inlig.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20