Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Filistynse troepe het saamgetrek vir oorlog. Hulle het by Soko in Juda bymekaargekom en kamp opgeslaan by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka.

2. Saul en die manskappe van Israel het in die vallei by die groot boom kamp opgeslaan en hulle vir die geveg teen die Filistyne gereedgemaak.

3. Die Filistyne en die Israeliete het op twee heuwels teenoor mekaar stelling ingeneem. Daar was ’n vallei tussen hulle.

4. Goliat, ’n uithalervegter van Gat, het uit die leër van die Filistyne na vore gekom. Hy was drie meter lank.

5. Hy het ’n bronshelm op sy kop gehad en ’n harnas met skubbe. Die gewig van die harnas was 57 kilogram.

6. Sy beenplate was ook van brons, en ’n bronsswaard het tussen sy skouerblaaie gehang.

7. Die steel van sy spies was so dik soos ’n wewer se balk en die ysterlem van die spies het sewe kilogram geweeg. ’n Wapendraer het voor hom uitgeloop en ’n skild gedra.

8. Hy het teenoor die manskappe van Israel gaan staan en geskreeu: “Is dit regtig nodig dat die gevegslinies opgestel moet word? Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer.

9. As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees!

10. Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!”

11. Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang.

12. Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud.

13. Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër.

14. Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17