Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 1:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Die volgende jaar het Elkana, Peninna en haar kinders soos gebruiklik vertrek om vir die Here te gaan offer.

22. Hanna het egter nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wag totdat die kindjie gespeen is. Dan sal ek hom neem om voor die Here te verskyn en lewenslank daar te bly.”

23. “Doen wat jy dink die beste is,” antwoord Elkana. “Bly hier totdat hy gespeen is, en mag die Here sy woord waar maak.” Sy het dus tuis gebly en die baba versorg.

24. Toe die kindjie gespeen is, het Hanna hom na die heiligdom van die Here in Silo geneem. Hulle het ’n driejaaroud bul as offer saamgeneem en ook omtrent sestien kilogram meel en wyn.

25. Nadat hulle die bul geoffer het, neem hulle die seuntjie na Eli toe.

26. “Meneer, onthou u my?” vra Hanna. “Ek is die vrou wat hier gestaan het en tot die Here gebid het.

27. Ek het die Here gevra om my hierdie kind te gee en Hy het my gebed verhoor.

28. Nou gee ek hom terug vir die Here. Hy sal lewenslank aan die Here behoort.” Daarna het hulle die Here daar aanbid.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 1