Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:10-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Dawid het die Here geprys waar die hele vergadering teenwoordig was: “O Here, God van ons voorouer Israel, mag U vir altyd geloof word!

11. Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here.Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles.

12. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk.

13. Ons dank U, ons God, en prys u heerlike Naam!

14. “Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!

15. Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting.

16. “Here ons God, selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om vir U ’n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U!

17. Ek weet, my God, dat U ons harte ondersoek en opregtheid verlang. U weet dat ek dit alles met goeie motiewe geskenk het, en ek het ook gesien hoe u volk vrywillig en vreugdevol hulle geskenke gebring het.

18. “Here, God van ons voorouers Abraham, Isak en Israel, laat u volk altyd hierdie gesindheid behou. Laat hulle harte altyd getrou wees aan U.

19. Gee my seun Salomo die heelhartige begeerte om al u bevele, gebooie en beginsels te gehoorsaam, en om hierdie tempel te bou, waarvoor ek al hierdie voorbereidings getref het.”

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29