Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Dawid het toe na die hele vergadering gedraai en vir hulle gesê: “My seun Salomo, wat God as die volgende koning verkies het, is nog maar jonk en onervare. Die werk wat vir hom wag, is groot. Want die tempel wat hy bou, is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit is vir die Here God self!

2. Ek het elke hulpbron tot my beskikking gebruik en soveel as wat ek kon, bymekaargemaak om die tempel van my God te bou. Daarom is daar nou genoeg goud, silwer, koper, yster en hout, sowel as groot hoeveelhede oniksstene, ander kosbare stene, duur juwele en allerhande stene en marmerstene.

3. “Omdat die tempel van my God my na aan die hart lê, gee ek al my persoonlike skatte van goud en silwer om met die konstruksie daarvan te help. Dit is buiten die boumateriaal wat ek reeds bymekaargemaak het vir sy heilige tempel.

4. Ek gee nou meer as 102 ton goud van Ofir en meer as 238 ton gesuiwerde silwer om die mure van die geboue oor te trek

5. en vir die ander werk van goud en silwer wat die ambagsmanne moet maak. Wie gaan my voorbeeld volg? Wie is gewillig om vandag geskenke vir die Here te bring?”

6. Toe het die familieleiers, die stamleiers van Israel, die generaals en kapteins van die leër en die koning se administratiewe personeel gewillig bygedra.

7. Vir die oprigting van die tempel van God het hulle gegee: byna 170 ton goud, 10 000 goue muntstukke, 340 ton silwer, 612 ton koper en 3 400 ton yster.

8. Onder toesig van Jegiël, ’n afstammeling van Gerson, het hulle ook talle edelgesteentes bygedra vir die skatkamers van die huis van die Here.

9. Die volk het gejuig oor die vrywillige gawes, want hulle het vrywillig en heelhartig bygedra vir die Here. Koning Dawid was ook vol vreugde.

10. Dawid het die Here geprys waar die hele vergadering teenwoordig was: “O Here, God van ons voorouer Israel, mag U vir altyd geloof word!

11. Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here.Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles.

12. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk.

13. Ons dank U, ons God, en prys u heerlike Naam!

14. “Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!

15. Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29